
Briefie vir wanneer jy moeg is
- taliapotgieter
- 12 minutes ago
- 4 min read
Ek dink aan jou, die leser van hierdie briefie, as 'n liewe vriendin of vriend. En ek skryf die brief vir jou en sommer ook vir my.
Ek bevind myself die ander aand in trane vir geen werklike groot rede. Dit is die moegheid wat my tref vir al die baie klein en medium en groot dinge van die laaste tyd. Toe my kinders met groot ogies na my kyk, en ek toe nog bo-op die tranerigheid en knorrigheid begin skuldig voel dat ek vir my kinders emosionele letsels gaan gee as hulle my so sien, kon ek gelukkig sê, "Sorrie julle, Mamma is moeg". Ek het minder gedoen as wat ek wou doen en myself vroeg in die bed gaan sit.
'n Dag se rus later bevind ek myself vroliker en met nuwe krag en kapasiteit. Ek verduidelik vir my jongste dat ek nie by die winkel was om haar nuwe tekkies te koop nie, want ek moes dinge stadig vat en bietjie rus. "Hoekom?", vra sy. "Want Mamma moes eers myself bietjie oppas sodat ek vir jou 'n lekkerder Mamma kan wees". Sy verstaan. (Ons moenie kinders onderskat nie.)
Nou sit ek en dink en wonder oor die dinge wat ons doen en die stories wat ons vir onsself vertel wanneer ons moeg, gespanne en oorweldig is.
Watter plekke besoek jy binne jouself wanneer jy heeltemal moeg is? En hoe lyk die wêreld vir jou wanneer stres jou van jou voete af slaan?
Dit is mos 'n diep storie daai, die storie van hoe ons veilig of onveilig voel in ons mees weerlose oomblikke. Dit is ook 'n lang storie en 'n oorsprongstorie, 'n storie van hoe ons groot geword het, ons temperamente, en hoe ons die lewe ervaar. Wanneer ons brein se frontale lobbe afskakel en alle rasionele gedagtes ons tydelik verlaat, wat doen ons dan?
Ons breine gee vir ons 'n paar opsies om mee te werk wanneer ons bedreig voel. En ja, stres en moegheid en uitbranding is 'n bedreiging vir ons algehele welstand.
Ons kan veg, met almal baklei, skop, en skree. Ons kan vlug, weghardloop en baie hard probeer om almal om ons te vermy. Ons kan vries, net daar sit in ons ongemak en nie weet wat om te doen nie. Miskien besluit ons dat ons almal om ons wil tevrede hou, ons kan ons emosionele pyn en ongemak wegstoot en dit ons lewenstaak maak om almal om ons op te pas, om almal om ons te reguleer ten koste van ons eie welstand. Ons kan ook sommer ietsie van alles probeer. Fight, flight, freeze, fawn.
Al die opsies het een ding in gemeen - dit beskerm ons, dit hou ons redelik besig, dit hou ons relatief veilig, maar ons voel alleen. Dit is 'n hele storie wat in jou kop en hart en liggaam gebeur. En miskien trek jy mense nader, oortuig hulle om jou te help en saam met jou paniekerig te raak. Of miskien stoot jy mense weg, want jou naels is te skerp terwyl jy eintlik vir oorlewing veg.
Die medisyne vir wanneer ons vassit in ons eie patrone van moegheid en alleenheid is amper die teenoorgestelde van wat mense dink hulle dan wil hê. En dit is meer 'wees' as 'doen', eerder asemhaal en een klein besluit neem as vergadering hou en 'n enorme plan beraam.
Die eerste stap is om te erken hoe jy voel. In die oomblik wat ek aan myself en my kinders erken dat ek sien ek is nou heeltemal moeg en emosioneel, skakel ek darem my kapasiteit om te dink en om te beplan vir 'n oomblik aan en ek kan 'n besluit neem - gaan slaap, gaan bad, steek 'n kersie aan, kanselleer 'n paar planne, gesels met iemand wat jy vertrou, stap, swem in die see, dans, skree kliphard in 'n kussing, lê op die bed en skop jou voete, huil ordentlik, spring of en af, hou jou hond vas, kyk 'n mooi storie, lees 'n boek, teken 'n prentjie, skryf in 'n dagboek. Maak 'n vinnige plan.
Wanneer jy stop en net jouself gou observeer, "ek sien ek is moeg", "ek voel ek is kwaad", "ek weet ek is gestres", gee jy jouself 'n bietjie energie om jouself te help 'reset'.
Soms raak mense vir so lank 'stuck' in oorlewing dat hulle nie eens weet dat daar 'n pad uit is nie. Hulle weet nie hulle mag maar erken hulle is moeg nie. Hulle weet nie hulle kan vra vir hulp nie.
Die punt van my briefie is die volgende: ons kan nie alles glo wat ons dink wanneer ons moeg en oorweldig is nie. Alles word dan net te swart en wit. Dink aan 'n kind wat uitgeput is en skree "niemand verstaan nie, niemand is lief vir my nie" en dan na 'n goeie nagrus 'n nuwe mens is. Ons is almal soms daardie oormoeg kind. En ons moet twee dinge gelyktydig probeer doen - begrip bou vir onsself in al ons menslike weerloosheid, én ons kapasiteit bou om meer rustig en met regulasie te leef.
Dit is 'n liegstorie wat aan ons verkoop word dat ons alles moet kan doen. Soms is dit niks doen, alles stop, ophou veg, ophou vlug, ophou 'please', asem skep, nee sê, met iemand praat, nie ons gevoelens sluk nie, wat ons nader bring aan onsself en ons siele weer aanskakel.
Jy is nie 'n masjien nie, liewe mens. Ons kan jou nie programmeer en elke dag dieselfde uit jou probeer druk nie.
Pas jouself op. En as jy nie weet hoe om dit te doen nie, kry hulp. Want jy is dit werd.
En as jy aan die ander kant van jou alleenheid en moegheid kom, dan vind jy dalk 'n nuwe manier van wees in die lewe. 'n Lewe met al die gewone dinge en pyn en moegheid, maar met die addisionele wonderwerk van rus, vreugde, kreatiwiteit en 'n sagter bestaan. Dit is my wens vir jou. En ook vir my.


Comments