
Dit is amper vakansietyd in die Wes-Kaapse kusdorp waar ons woon. Môre is dit Desember, maar dit lyk al vir ‘n week of twee asof vakansie en Kersfees kom. Daar is meer karre op die paaie, parkering raak skaars, en inwoners neem een van twee posisies in – moerig dat die binnelanders op pad is, óf gereed vir die ‘as dit pap reën moet jy skep’ situasie wat besigheidsmanne breed laat glimlag in antisipasie.
‘n Man in sy kar met 'n plaaslike nommerplaat wys ‘n onbeskofte vinger vir ‘n persoon wat verkeerd bestuur. Desember gaan intens wees, dit is onvermydelik.
Ek reken ek beter my tienerseun se voorbeeld volg en soveel tyd moontlik op die strand spandeer voor dit te besig word. Vanoggend is ons op pad - ek, my dogtertjies en ‘n maat - sonroom gesmeer, handdoeke gepak, waterbottels vol. Ek laat my dogter op Spotify liedjies kies waarna ons kan luister. Taylor Swift is nie deesdae die gunsteling nie, so ons luister Olivia Rodrigo. Ek dink ek beter haar gaan Google, want sy klink asof sy in ongesonde verhoudings opeindig. Voor ek myself kan keer sê ek vir die meisies hulle moet asseblief ordentlike ouens eendag kies.
Ons stop by die petrolstasie se kafee vir draairoomys. Ons is mos nou in ‘holiday mode’. By die toonbank sien ek hulle verkoop Beechies kougom, onder andere die Peach Apricot oranje kougom wat ek altyd saam met my boetie op vakansie gekoop het. En net daar is ek in my gedagtes weer 'n kind in die kafee by Boesmansrivier waar ek en my boetie lekkers, koeldrank en skyfies gekoop het. Ons het altyd bietjie daarvan geëet en dan die res begrawe op die duin om die volgende dag weer te gaan uitgrawe en eet. Die Beechies in my kinderdae herinneringe is gevolglik oranje, soet, en sanderig.
Ek wonder hoekom het ons dit gedoen? Dit was seker opwindend om iets weg te steek en te wonder of dit die volgende dag nog daar sou wees.
Ons kinderjare se jaarlikse vakansie na Boesmans het begin nadat my pa een jaar misluk het in sy goedbedoelde poging om vir ons lekker vakansieverblyf in Port Alfred te bespreek. Die plekkie was te klein en te ongemaklik, maar my ma se neef kon ons help met verblyf in sy strandhuis in Boesmans. Die jaarlikse Maart/April seevakansie was ‘n hoogtepunt vir die Johannesburg stadsmense wat met verlange na die see uitgesien het.
Vakansies is baie harde werk en moeite, vra maar vir die Mamma en Pappa wat al die voorbereiding doen. Jare terug, toe ek ‘n kind was, was ‘n vakansie in Boesmans ekstra baie werk. Daar was nie baie winkels nie en wie wil nou gereeld Port Alfred toe ry vir inkopies? My ma is gelukkig ‘n beplanner en met haar netjiese lysies was die voorbereiding altyd perfek. Hoender is voor die vakansie gaar gemaak, ontbeen en gevries, maelvleis vir haar ‘spaghetti a la Mamma’ is ook voor die tyd gemaak en gevries. Braaivleis? Jy het reg geraai – gekoop, gevries en ingepak. Ons Ouma het haar ongelooflike brood gebak en dit is ook saam met ons vir die hoender en kaas toasties wat ‘n prys kon wen. My ma het altyd beskuit gebak en dit mooi geseël, want sy kan ‘n bysmaak ruik voor sy hom proe. Die voorbereiding was ‘n gedoente.
My pa moes reëlings tref om die sleepwa te gaan optel by sy oud-kollega, sodat ons alles by die see kon kry. Die sleepwa moes skoongemaak word. En my pa moes my en my boetie biblioteek toe neem, sodat ek ses boeke vir my op my biblioteekkaart kon kry en dan ses boeke vir my boetie kon kies wat ek dan sou lees, want ek was die boekwurm. Ek neem dus altyd maats saam met my op vakansie - Saartjie, Trompie, The Famous Five, The Secret Seven, Anne, Matilda, die meisies van Sweet Valley High.
Ek was lief vir Johannesburg, maar die opwinding vir ‘n stadsmens om by die see te kom is iets anders. En mense wat in die Kaap groot geword het verstaan nie altyd hoe ver mense ry om by die see uit te kom nie. My ma het die afstand elke jaar aangeteken, seker ongeveer 1050km deur tot deur. Later jare was dit ongeveer 1440 kilometer van Johannesburg na Onrus. Gotta do what we gotta do to reach the beach.
Op pad na die Oos-Kaap luister ons die ‘tapes’ wat my Tannie Doon vir ons gemaak het. Sy het haar gunsteling musiek vir ons opgeneem, haar handskrif op die een tape lees Allerlei I en die ander een is Allerlei II. Wanneer Peter Frost se Winter Games se dramatiese inleiding speel, dan weet ons dit is vakansie. Die Pet Shop Boys klink soos lekker ouens en Phil Collins laat my saam met hom wonder hoekom die aarde nie vir almal Paradise kan wees nie. Diep gedagtes vir ‘n jong meisie, maar mens is wie jy is. Ons word ook groot met Sting, Johnny Clegg, Chicago, klassieke musiek.
By Bloemfontein is dit tyd vir piekniek, lemoensap en sakgeld. Colesberg raak lank, maar ons hou nog moed. By Cradock is die pad al lank en my ouers al effens histeries. Naby Grahamstad onthou my pa hoe hy al van baie jonk af daarheen gestuur is, vyf dae op ‘n trein, om koshuis toe te gaan. Not happy memories. Maar die goeie ding van naby Grahamstad wees is dat dit beteken jy kan amper begin soek vir die see, en daai is die beste blou wat jy in ‘n lang tyd gesien het.
Na die uitpak van kar en sleepwa, is dit tyd vir my ouers se G&T op die stoep met ‘n peanut en chippie. Die begin van voorspelbare rituele en gebeurtenisse op ons jaarlikse vakansies. Die eerste dag van vakansie moet mens oppas vir dinge oordoen, want as jy draf, stap, swem in die see en lekker braai, dan het jy dalk môre sonsteek, né Paps? Daar moet elke dag gestap word, gereelde besoeke na Kenton se strand gemaak word en lang stappe beplan word. Ons stap ver na Kwaaihoek, ek is altyd heel agter besig om te sing, liedjies op te maak en te gesels met God. Dan is daar die opsie om na Dias se kruis te stap, eerder kuslangs, asseblief net nie oor die duine nie.
Dan was daar die dae wat my ouers gewonder het of ek en my boetie sonder hulle wou stap en ietsie by die kafee koop. Onthou julle daai telefoonkaarte waarop ons kon geld laai en by daai telefoonhokkies mense kon bel? Ons het by so ‘n telefoonhokkie verby gestap en dan bel ek my maats. Ek onthou nog ‘n paar nommers. 782 6882. 726 5497.
Na die oproepe was dit tyd vir die kafee en ons kuiertjie op die duine, net ek en my boetie. Genade, hoe koester ek nou die onskuld van daardie oomblikke en die kinderlike gedagte van lekkers wat in sand begrawe word.
Vakansie kom nou weer en ek dink aan al die herinneringe wat aan ons sintuie gekoppel word. Die reuke, die klanke, die hitte of koeligheid, die briesie wat waai, die dinge wat ons sien, die smaak van ‘n kougom. Nog ‘n Desember is voor ons vol geleenthede vir ou rituele herhaal en nuwe assosiasies maak. En ek is dankbaar dat ek kan onthou dat beide die lelik en die mooi van die lewe na ons toe roep as ons net bereid is om te luister, voel, beleef. Alles met die oog op groei en ervaar en leef.
Daar staan ek toe op die strand vandag, my gedagtes vol mooi herinneringe, met ‘n Peach Apricot Beechie in my mond. En nou skryf ek hierdie storie, want alles maak saak. Ons pogings om dinge mooi en kosbaar te maak gaan nie tot niet nie, moeite is die moeite werd.
So geniet julle vakansies, respekteer die rituele, en stop vir daai draairoomys.
En mag die geur en smaak van jou mooi dag langer by jou bly as die drie minute voor die Beechie smaakloos word.
Kusdorp mense – onthou net, in Januarie skud ons mooi dorp weer al haar ekstra gewiggies af. Vir nou is dit ‘n tyd van pret en plesier en die ekstra lang somersdae simboliseer seker iets te doen met Carpe Diem.


